Joe Foster
Ons het Joe Foster leer ken as die blondekop, blou-oog, liedjieskrywer en passievolle sanger van die suksesvolle mansgroep ADAM. Trefferliedjies soos “Gebore om jou lief te hê”, “Hartklop”, "Hart Se Volkslied" en nog vele meer, kom uit sy eie pen. Joe Foster het vinnig in die harte van Afrikaanse musiekaanhangers ingekruip.
Na ADAM was die volgende logiese stap om sy talent aan te wend in ‘n solo loopbaan, ‘n solo album uit te bring en optredes te doen in sy eie unieke styl.
Sy ondersteuners het hom al op die meeste SA verhoë sien optree, waarvan Skouspel die hoogtepunt was. Die liedjies wat hy geskryf is telkemale op TV en Radio, asook op kompilasie albums gehoor.
Hy het al die verhoog gedeel met van ons land se grootste kunstenaars en gewerk met van ons land se beste vervaardigers en liedjieskrywers. Joe was saam met ADAM genomineer vir nie minder nie as 5 nominasies nie en die toekenning wat hulle gewen het, was tydens die jaarlikse Ghoema Toekennings as “Beste Nuwelinge van 2012”.
Op die ouderdom van 8 het sy liefde vir musiek werklik begin, op 13 skryf hy sy eerste liedjie en op 19 is sy eerste album opgeneem “Invisble Destiny” wat tans nie meer beskikbaar is nie.
Na die opname van “Invisble Destiny” album het hy sy kwalifikasie in musiekvervaardiging en klankingenieurswese aan die SAE Technology College in Ampsterdam (Nederland) voltooi. Na sy terugkeer het hy sy eie Recording Studio en Platemaatskappy begin en het voltyds as musiekvervaardiger gewerk aan o.a albums soos die van Karen Wessels se “Hoe Durf Jy”.
Joe het ook ‘n liefde vir Geestelike musiek en was tydens sy jeugjare musiekleier by kerke en doen ook gereeld items by gemeentes soos die van die bekende Mosaiek Gemeente.
Sy lewe verander wel onomkeerbaar in 2010 toe hy deel van die groep ADAM word, waarna hy sy besighede vir eers opsy sit om voltyds as sanger in die mansgroep ADAM te wees. Joe is onder sy aanhangers bestempel as “die man met die engel stem” en op die verhoog kan mens sien waarom. Hy is sonder twyfel nie net ’n opneem kunstenaar nie en sy talent kom eers tot sy reg wanneer hy op ‘n verhoog is.
November 2013 stel hy sy debuut enkelsnit vry met die naam PAD NA JOU HART. Dit is die temalied van die film met dieselfde naam en waarin hy ook verskyn as akteur.
Aanhangers en ook die wat nog nie van Joe Foster gehoor het nie, kan binnekort (2014) nie net ‘n album nie, maar ook optredes en toere verwag.
Daar wag ’n musikale ontploffing vir alle liefhebbers en aanhangers van Afrikaanse musiek.